Tuesday, May 20, 2014

UNPFII 13th Session: Report by Mr. Cecil le Fleur, the Chairperson of the National Khoi & San Council (NKC)

Dus die interim Verenigde Nasies se Permanente Forum rondom Inheemse Mense se Kwessies verslag van die Nationale Voorsitter, Mr. Cecil le Fleur, van die Nationale Khoi & San Raad gedateer 

19 May 2014.
Geagte Raadslede

Groete hier uit New York.

Ek het reeds ons voorlegging in die VN Permanente FORUM gelees. Dit was goed ontvang deur meeste inheemse verteenwoordigers hier. As ek dit so stel, bedoel ek diegene wat persoonlik by my so aangedui het.

Ek het aanvanklik probleme ondervind om akkreditasie te kry om die forum byeenkoms te kon bywoon. Dit was agv n misverstand wat ontstaan het tussen die DTA en die SA Permanente Missie hier in New York. Ek het toe wel die volgende dag akkreditasie deur my eie kontakte hier verkry.

Die DTA, oftewel, die SA Regering, het egter toe reeds die vorige dag hul voorlegging gedoen. Ek het n harde kopie van die voorlegging. Nadat ek die dag daarna ons voorlegging gedoen het, het hulle onmiddellik weer n spreekbeurt gevra om hulle te verdedig op die stellings wat ons gemaak het. Hierdie insette het ek nog nie van hulle gekry nie. Soos ek verwag het, het die voorsitter van die UNPFII onmiddellik na my voorlegging gevra dat regerings en Inheemse afvaardigings asb moet probeer om meer te doen om voor hul koms na die Forum eers tuis met mekaar konsensus te bereik.

Die Permanente forum het egter deeglik kennis geneem van ons posisie en ek hoop regtig dat daar nou spoedig n proses sal ontwikkel waar ons, in samewerking met ons regering, ernstig sal begin om die wetlike erkenning van die Khoi en San in Suid Afrika tot n suksesvolle einde te dryf. Daar is n sterk moontlikheid dat ek nog vanaand met die DG en ander lede van die regerings afvaardiging, in gesprek sal tree om die pad vorentoe te bespreek.

Intussen het ek ook aktief deelgeneem aan gesprekke en vergaderings met afvaardigings van Inheemse volke van ander Afrika lande en organisasies om gemeenskaplike sake aan te spreek. Van die ernstigste algemene sake is beslis die Wêreld Konferensie oor Inheemse Volke ( WCIP ) wat later vanjaar in September sal plaasvind. Meeste Afrika regerings, sowel as Rusland en China, is ernstig gekant teen die besluit dat inheemse volke die reg sal hê om op gelyke voet met staatshoofde aan die konferensie deel te neem. M.a.w. dat daar vol, gelyke en effektiewe deelname van  Inheemse Volke in die konferensie sal wees. Verteenwoordigers sal, soos dit voorgestel is, kan reageer op wat Staatshoofde in die konferensie rapporteur. Die oorspronklike reeling, soos in die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies geneem was, het voortgegaan om te bepaal dat daar twee mede voorsitters vir die konferensie sal wees. Een van die regerings/nasiestate en een van die Inheemse Volke. Hierdie reëling is natuurlik heeltemal onaanvaarbaar vir die meeste Afrika State, Rusland en China. Inheemse Volke kan volgens hulle nie direk met Staatshoofde interaksie hê nie. In die Permanente Forum is dit mos anders. Hier word die State slegs deur regerings amptenare, ambassadeurs en soms ministers verteenwoordig.

Intensiewe onderhandelinge tussen die Verenigde Nasies strukture en die strukture van die Inheemse Volke het egter intussen hier plaasgevind. Huidiglik is daar n nuwe voorstel op die tafel wat as volg lui.

Die president van die Algemene Vergadering van die VN ( General Assembly ) sal nou die voorsitterskap oorneem en sal dan ondersteun word deur twee raadgewers van die kant van die regerings en twee raadgewers van die Inheemse Volke aan die anderkant.   (Die "General Assembly " is die hoogste gesagsliggaam in die VN Struktuur )   Hierdie voorstel is volgens alle aanduidinge, aanvaarbaar vir die Inheemse Volke, met slegs die uitsondering van die Inheemse Volke van Noord Amerika ( VSA en KANADA ) Dit is in die lig hiervan dat ek saam met ander Afrika Inheemse verteenwoordigers probeer om die regering verteenwoordigers van Afrika lande hier te probeer oorreed om die jongste voorstel van die General Assembly te aanvaar, sodat die reëlings vir die konferensie kan voortgaan. Dit dien ook genoem te word dat n ander geskilpunt is dat die verskillende State die voorbereidings vir die konferensie in volle samewerking met die Inheemse Volke moet doen. Hierdie aanspraak van die kant van die Inheemse Volke berus op die beginsel, soos uiteengesit in die UNDRIP, dat Inheemse Volke volle en gelyke deelname op regerings vlak moet hê in alle sake wat hulle raak. ( " Niks vir ons, sonder ons nie" ) Voorts het die President van die Algemene Vergadering vanoggend weer n verdere voorstel gemaak dat hy n onderhandelings proses aan die gang sal sit met Nasie State sowel as met die raadgewers van die Inheemse Volke om die saak so spoedig as moontlik opgelos te kry. Na die onderhandelinge sal daar n voorlopige dokument opgestel word wat dan as besprekings dokument kan dien vir die betrokke partye. Die eerste rondte sal plaasvind op 29 Mei 2014. Die tyd is baie min en spoedige optrede sal hoë prioriteit geniet.

Die situasie, soos hierbo bespreek, is die mees belangrikste algemene aangeleentheid hier by die Forum, afgesien van die persoonlike voorleggings wat Inheemse Volke maak t.o.v. die vordering wat daar in hul onderskeie lande gemaak is met betrekking tot hul eie inheemse sake.

Ek hoop dat ek die verwikkelinge tot sover hier na die beste van my vermoë vir u opgesom het.

Groete

Cecil le Fleur


No comments: